Friday 14 March 2014

Oom Vên se Liggies

Bultfontein is waarskynlik die laaste Vrystaatse dorp wat elektrisiteit in die sestigerjare gekry het.

Dit was altyd met groot opgewondenheid wanneer ek saam met Pa en Ma by die familie in Brandfort gaan kuier het. Brandfort het elektrisiteit gehad en die nefies elektriese Scalectrix renmotortjies waarmee ons die ure omgespeel het.

Daar was weemoed in my hart wanneer ons die renmotortjies aan die einde van die kuier weggepak het. Ek het geweet dat ek nooit die voorreg sal hê om ‘n Scalectrix-stel te besit nie, want Bultfontein het nie elektrisiteit gehad nie.

Eintlik het dit nie gegaan oor Bultfontein wat nie elektrisiteit gehad het nie. In werklikheid was die probleem dat Bultfontein nie liggies gehad het nie. Ek onthou hoedat ek daaraan gewoond was om by die gelerige lig van ‘n paraffienlamp in my kamer huiswerk te doen. Ma het ook ‘n Alladin-lamp gehad. Hierdie wonderwerk van ‘n lamp wat ‘n suiwer wit lig gegee het, was hoofsaaklik in die eetkamer gebruik, en in die sitkamer wanneer ons kuiermense gehad het. Ander mense het selfs sulke lampe gehad wat opgepomp moes word om dan met ‘n agtergrondgesuis lig te verskaf. Maar, dit was nie liggies – elektriese liggies – nie.

En tog hét Bultfontein liggies gehad – Oom Vên se liggies.

Oom Vên van Niekerk was ‘n elektrisiën. Ek kon nooit verstaan wat ‘n elektrisiën op Bultfontein gemaak het nie, want daar was dan nie elektrisiteit nie. Sy besigheid se naambord “Van’s Electrical” het uitgestaan op ‘n dorp waar selfs die Joodse winkeliers hul besigheid “Horwitz en Levitt Algemene Handelaars” genoem het, waar dieselfde Joodse handelaars keer op keer die biddag vir reën in die NG Kerk bygewoon het en waar Engels slegs in Mnr Wright se Engelse klas by die skool gehoor en probeer praat is.

Oom Vên se werkswinkel het meer na ‘n motorwerktuigkundige s’n gelyk as díe van ‘n elektrisiën. Motoronderdele het gesaai gelê en in die een hoek was genoeg meganiese rommel om dit na die begin van ‘n skrootwerf te laat lyk.

Hoewel Oom Vên Afrikaanssprekend was, het dit nie altyd so geklink nie. ‘n Mens kon dikwels nie mooi hoor wat hy sê nie en meesal kon mens nie verstaan wat hy met sy skrillerige stem teen ‘n haastige tempo probeer verduidelik het nie.

Oom Vên was altyd haastig. Die heen-en-weer bewegings van hierdie man met sy skraal postuur in sy kenmerkende Omo-wit oorpak, het my altyd laat dink aan die rysmiere wat ek met belangstelling kon dophou. Soos hulle was Oom Vên ook altyd besig. Soos hulle het Oom Vên ook hard gewerk. Anders as hulle het Oom Vên minder struktuur en veral logika gehad in hoe hy dinge gedoen het.

‘n Outydse effens-te-groot gholf-keps wat so effens skeef na agter op sy kop gesit het, het hom laat lyk soos ‘n destydse Amerikaanse bofbalspeler. (Die Amerikaanse  gansters in die swart en wit rolprente wat ons op Saterdagaande in Bultfontein se stadsaal gesien het, het ook sulke pette gedra. Hulle het ook masjiengewere gedra. Oom Vên, gelukkig, nie.) Sy tenger lyf het egter beklemtoon dat hy beslis nie ‘n bofbalspeler (of ‘n ganster) was nie.

Die grootmense het grootoog gemaak wanneer hulle oor hom gepraat het en gesê dat dat hy te slim was vir ons gewone mense om te verstaan. Eksentriek was ‘n woord wat ons toe nog nie geken het nie.

Om redes wat niemand ooit geweet het nie, het Oom Vên besluit om elektriese straatligte in Bultfontein te installeer. Uiteraard kon hy nie die hele dorp se strate elektrifiseer nie. Hy het dus besluit om een straat van ligte te voorsien – Theunissenstraat, die straat waarin ons gewoon het.

Oom Vên moes seker soos Noag van ouds gevoel het toe hy die Ark gebou en mense allerhande vrae gevra het. “Vên, hoekom lê jy straatligte aan?” sou iemand wou weet. Geen antwoord nie. “Waar gaan die elektrisieit vandaan kom, Vên?” sou ‘n waarskynlike vraag gewees het. “Hoekom Theunissenstraat van alle strate? Hoekom nie eerder die hoofstraat nie? Dit is immers Bultfontein se enigste teerstraat.” Ek dink nie Oom Vên het self geweet nie.

En soos mense gewoond geraak het aan Noag wat dag na dag die Ark gebou het, so het ons gewoond geraak aan Oom Vên wat dag na dag in Theunissenstraat gate gegrawe, pale geplant en kabels gespan het.

So het dit dan gebeur dat Bultfontein een straat met elektriese straatligte gekry het. Saans, klokslag as die skemer daal en die aand steurend stil raak, het Oom Vên se Lister dieselenjin vanaf sy perseel agter die poskantoor begin poef-poef en het die kragopwekker wat daaraan gekoppel was, dit werklik reggekry om selfs die gloeilamp op die verste punt van die lang straat ten minste ‘n sinvolle gloed te gee.

Die ligte was nou nie juis van so ‘n aard dat ons die gordyne moes toetrek om die slaapkamer teen slapenstyd donker te maak nie. Ook kan ek nie dink dat die passasiers op SAL se sporadiese vlugte vanaf Kaapstad na Johannesburg hul kaptein oor die interkom sou hoor sê het: “…en aan die linkerkant sal u Bultfontein se ligte in die verte sien…” Feit bly egter staan, Bultfontein het straatligte gehad – Oom Vên se ligte.

En skielik het dorpe se straatligte ‘n belangrike samebindende tydverdryf, selfs ‘n nostalgie, in Pa, Ma en my lewe geword wanneer ons met die rooi Ford F100 bakkie êrens heen gereis het. Op ‘n Sondagaand het ons altyd totsiens gesê vir Kroonstad se liggies wanneer ons die lang bult buite die dorp uitgebeur het na ‘n naweek se kuier by Oom Isak en Tant Martie in Koppies.

Op ‘n Vrydagaand op pad na Oupa en Ouma in Bethlehem was dit groot opgewondenheid om te kyk wie eerste die liggies sien wanneer daardie laaste bult oorgesteek word en die dorp in ‘n panorama onder ‘n mens ontvou. 

Selfs Oom Kasper en Tannie Sannie le Roux se paar kragopwekkerliggies op hul netjiese plaaswerf het ‘n betekenis gekry wanneer ons in die aand by hulle gaan kuier het. Dit was aan die einde van ‘n lang, donker en beklemmende bloekomboomlaningrit – so asof dit wou sê: “Kom hier. Hier by ons is lig en vrede.”

Die stad Welkom se liggies, daarteenoor, was nie juis opwindend nie. Die wêreld was te plat om skielik liggies voor jou te sien. Die plek se ligskynsel het maar net helderder geword namate ‘n mens nader gery het.

En wanneer ons laat in die aand van Oom Boet en Tannie Sarie Venter se plaas, Stillerus, op die Wesselsbronpad teruggery het huis toe, dan het ek gewag om Oom Vên se ry liggies in Theunissenstraat vanuit die donkerte waarin ons gery het, te sien. Vir my was dit die kompas wat gewys het waarheen ons op pad was en waarheen ons moes gaan om ons bestemming te bereik – die verligte landingstrook na ‘n huis en tuiste waar daar rus was, stille rus.

Toe Bultfontein later jare Eskom-krag (soos die grootmense gese het) gekry het, was dit, snaaks genoeg, nie ‘n vreeslike gebeurtenis nie. Belangrik? Ja. Aardskuddend? Nee.

Miskien het dit gekom op ‘n tyd toe mense begin agterkom het dat die wêreld ‘n groter plek is as die Bultfontein-eiland waarop hulle hul al die jare bevind het. Miskien is dit gesien as deel van groei wat maar saamgeval het met ‘n nuwe gier om inkopies by Checkers in Welkom en Ackermans in Bloemfontein te doen en wat bygedra het tot die feit dat Horwitz en Levitt Algemene Handelaars op Bultfontein uiteindelik hul deure moes sluit. Miskien was dit die mikro-begin van ‘n nuwe samelewing wat begin glo het dat die wêreld hulle iets skuld en dat elektrisiteit maar net nog iets is wat hulle toekom. Miskien was dit wél ‘n groot gebeurtenis, maar dat dit oor die jare kleiner in gestalte geword het soos so baie ander dinge ook maar oor tyd in die verskiet vervaag het.

Ek het toe nooit ‘n Scalectrix-stel besit nie. Ek het ander belangstellings en veral nuwe werklikhede gehad teen die tyd toe Bultfontein elektrisiteit gekry het. Van hierdie werklikhede het te doen gehad met ‘n kind wat besig was om groot te word – ‘n kind wat gesoek het na nuwe kompasse om die rigting aan te dui waarheen hy as jong man moes gaan.

Die gemeenskap het Oom Vên nie altyd verstaan nie. Tog het hy ‘n onvermydelike rol in ons lewens gespeel deur op sy manier vir ons liggies te gee om ons donker straat te verlig en daardeur ‘n veilige heenkome sigbaar te maak.

En as ek terugkyk oor my lewe, dan verstaan ek dit ook nie, maar sien ek talle Oom Vêns wat in tye toe ek dit nodig gehad het, straatligte in my donker wêreld op die regte tyd aangeskakel het sodat ek kon sien waarheen om te gaan.

Butfontein is waarskynlik die laaste Vrystaatse dorp wat elektrisiteit in die sestigerjare gekry het. Dit was egter die enigste dorp wat Oom Vên-liggies gehad het waar Oom Vên toe, en ander mense in die jare daarna soos hy, die pad vir ‘n soekende kind in hierdie wêreld aangewys het op tye in sy lewe toe hy dit die meeste nodig gehad het…..en steeds nodig het.

Dankie, Oom Vên...

No comments:

Post a Comment